'n Trougids waar bruide top gehalte diensverskaffers kan vind eksklusief in Limpopo asook tonne inspirasie en advies.

Die Venue Soektog

Die lys van vereistes vir ‘n sprokies bruilof word deesdae heroorweeg. Dit is nie meer nodig vir ‘n tradisionele troukoek of die gooi van die kousband nie. ‘n Plek, gebou, saal of selfs ‘n veld waar die trou-verhaal kan afspeel, is egter nie opsioneel nie. Die venue is een van die hoof-karakters in die storie van ‘n troudag, omdat dit die agtergrond skets van die bruidspaar se liefde en toekoms.

Die soektog na die perfekte venue is soms ‘n vreesaanjaende en oorweldigende taak om aan te durf. Nie net vat dit ‘n groot hap uit die begroting van ‘n troue nie, maar daar is ‘n ongelooflike groot verskeidenheid om van te kies. Dit is egter een van die grootste, eerste en belangrikste besluite wat geneem moet word voor enige verdere beplanning kan gebeur.

Voor die soektog vir ‘n venue kan begin, moet die bruidspaar eers ‘n voorlopige begroting en gastelys vir die troudag saamstel. Dit is belangrik om te weet hoeveel geld daar is om te spandeer en vir hoeveel mense voorsien kan word, omdat dit die grootte en tipe venue beïnvloed.

Dit is ook belangrik om navorsing te doen oor die algemene prys van venues. Nes met ‘n rok, help dit nie om die rok aan te pas en dan eers te besef dat jy dit glad nie kan bekostig nie. Skei die kaf van die koring voor jy venues oorweeg of gaan besoek, en elimineer al die wat buite die begroting val.

Na die geldsake en gastelys uiteengesit is moet die seisoen, of meer spesifiek, die datum van die troudag bepaal word. Baie venues is ver vooruit bespreek, daarom is dit makliker om van die begin af te vra of hulle die spesifieke datum of naweek beskikbaar het. ‘n Venue soos Goedgedacht Game Lodge is byvoorbeeld goed ingerig vir ‘n naweek bestemming troue, waar ander venues slegs per dag bespreek kan word. As die bruidspaar nie gebonde is aan ‘n spesifieke dag of tyd van die jaar nie, word daar dikwels spesiale pakette aangebied vir af-seisoene of weeksdae.

Die mees belangrikste aspek van die venue-soektog is egter dat die venue inlyn is met die tema, styl en kleure van die troudag. Die atmosfeer, gevoel en ervaring moet ook iets uniek van die egpaar weerspieël en uitdruk. Sosiale media bladsye of fotograwe wat al troues by die gekose venues vasgevang het kan besoek word om te sien hoe die styl en “prentjie” van die venue lyk en fotografeer.

Die styl van venues word geklassifiseer volgens tendense. Die sleutelwoorde is ondermeer: “vintage”, “modern”, “elegant”, “casual” of “industrial”. Deesdae word style ook gekombineer, soos byvoorbeel Grincourt, ‘n privaat natuurreservaat, is geken as rustiek maar sjiek en elegant. Die kleure van die venue, moet ook die kleure van die tema komplimenteer. Daarom sal byde MonCherié en Sôkêng venues gepas wees vir troues met natuurlike kleure, omdat dit afspeel in die bosveld en plaas ligging.