'n Trougids waar bruide top gehalte diensverskaffers kan vind eksklusief in Limpopo asook tonne inspirasie en advies.

Kies jou gevolg

Van kleins af droom elke dogtertjie van daardie sprokies mooi dag – gevul met roos en blom geure, fyn breekgoedjies, kristal glase met fyn stingeltjies, mense wat snak na hul asem as hul jou vir die eerste maal as ‘n vrou sien in daardie droom wit rok, aan die begin van ‘n nuwe avontuur saam die liefde van jou lewe.

Maar enige iemand wat al in daardie paadjie afgestap het, sal vir jou kan sê dat die beplanning tot hierdie groot dag (wat in ‘n oogwink verby is) baie stresvolle slapelose nagte kan besorg!

Daarom is dit belangrik om hierdie reis aan te pak saam met die regte mense. Hartsvriendinne wat jou verstaan, jou ondersteun en jou spesiaal sal laat voel op daardie onvergeetlike dag – iemand wat jou daardie oomblik sal gun en wat jou sal kan help om al daardie klein details te verseker en iemand wat sal verseker dat jy elke oomblik geniet...

Sjoe dis ‘n mondvol en waar begin jy?! Moet jy iemand langs jou hê? Hoeveel meisies moet daar wees?

Daar is soveel dinge om in gedagte te hou dat dit amper ‘n vrees aanjaende ervaring op sy eie kan wees! Dan is dit natuurlik ook belangrik om jou aanstaande in gedagte te hou – hy het ook sy “partners in crime” en ja jy mag dalk wens dat Jona se Walvis van hulle heel insluk en op ‘n vêrre land iewers sonder opvangs weer uitspoeg.

Eerste dinge eerste...

Hoe groot is jul troue?

Hoeveel gaste beplan julle om te nooi – is dit ‘n intieme bruilof met slegs julle liefstes en dierbaarstes, of nooi julle (of julle ouers) die hele gemeente, daai niggie van jou ouma se tannie se dogter waarvan jy dalk al eenkeer gehoor het én die burgermeester en dan natuurlik – hoe formeel is die bruilof.

Die begroting bepaal natuurlik ook die grootte van die bruilof en hoe meer meisies daar is – hoe meer grimering, hare, rokke ens ens is daar om by die rekening te voeg en nie om eers te praat van hoe meer verskillende opinies gaan daar wees, hoe moeiliker gaan dit wees om datums te kry wat almal pas en hoe makliker chaos jou kan omvou nie!

Daar is natuurlik ook die maklike reël dat 1 bruidsmeisie en 1 strooijonker per 50 gaste altyd ‘n goeie balans handhaaf.

Gun jouself ‘n oomblik...

Alhoewel jy dadelik aan ‘n hele klompie vriendinne kan dink met wie jy die groot dag wil vier, is dit nie noodwendig wys om almal dadelik te vra om langs jou te staan nie!

Gun jouself tyd vir die verlowing om in te sink, en maak ‘n lysie van moontlike “kandidate” – op papier kan jy maklik ‘n naam uitvee of by sit maar as jy eers gevra het kan jy dit nie terug neem nie.

Jy wil hê ek moet wat??!!

Strooimeisies dra groot verantwoordlikheid in die beplanning van jou spesiale dag. Hulle sal verantwoordlik moet wees vir seker reëlings en takies voor en op die dag van die troue.

Hierdie meisies moet goed oor die weg kan kom met die ander meisies in die groepie en moet bereid wees om jou ekstra paar hande te wees tydens die beplanning. Soms sal daar ‘n takie wees wat tyd en moontlik baie energie en moontlike omkostes gaan verg en jy moet gemaklik kan wees om hierdie dinge van jou meisies te kan vra.

Wat van etiket?

Daar is baie raad daar buite en als kan maar met ‘n knippie sout geneem word – Niemand ken jou en jou aanstaande beter as julle self nie. Broers en susters is spesiaal en deel ‘n groot deel van jul lewens, maar daar is geen sin daarin om iemand langs jou te hê met wie jy ‘n slegte verhouding het nie.

Wanneer jy na vriende kyk, dink ook aan hoe goed jul mekaar ken, waar deur jul al saam gegaan het en of die vriendskap nog ten minste 5 jaar gaan hou. Jy wil nie oor 30 jaar na jou troufotos kyk en wonder wie daai nou weer was nie…

Wie en waar...

Dit is belangrik om gedagte te hou wie waar woon.

Dit is van min hulp as jou beste vriendin in Australië sit en nie werklik van enige hulp kan wees tydens die beplanning nie en dalk moontlik nie sal kan deurkom vir die troue nie.

Neem almal se omstandighede ook ingedagte. Daardie oulike hands-on vriendin met die drieling en twee kleuters gaan dalk nie die mees betrokke strooimeisie kan wees nie en die een wat haar eie troue beplan se dagboek en gedagtes is dalk reeds gevul met haar eie planne.

Ek wil nie regtig nie, maar sy het my gevra…

Jy hoef glad nie verplig te voel om iemand te vra om deel van jou gevolg te wees, net omdat hulle jou gevra het om deel van hulle sin te wees nie.

Dis belangrik dat mense wat op daardie oomblik vir jou ‘n groot rol in jou lewe speel saam met jou daar staan en daardie oomblikke met jou deel.

Dames en / of Here...

Vandag is ons vriendekringe baie anders as in ons ouers se dae en jou beste vriendin mag dalk ‘n beste vriend wees of jou aanstaande se bestie is dalk ‘n vriendin. Daar is geen vasgestelde reël dat mans aan die een kant en vroue aan die ander kant moet staan nie.

Hierdie is julle spesiale dag en wat belangrik is, is dat daar spesiale mense wat vir julle omgee en julle ondersteun saam jul daar sal staan en saam jul die groot reis sal aanpak.

Onthou hierdie is jou gevolg – nie jou as gevolg van nie….