'n Trougids waar bruide top gehalte diensverskaffers kan vind eksklusief in Limpopo asook tonne inspirasie en advies.

Nikita & Tiaan

Nikita en Tiaan se spesiale dag begin onder ‘n groot Wilde Vye Boom op Nikita se oupa en ouma se wildsplaas in Nylstroom. Daar is nie ‘n wolkie in sig nie en ‘n koel briesie tem die warm Limpopo son. Die Dominee sluit die seremonie af met hierdie woordjies, “…en nou verklaar ek julle man en vrou…” en so, begin die nuwe hoofstuk van Mnr en Mev Minnie se lewens saam.

Hoe het julle ontmoet?

Nikita: Tiaan het eendag by Macpro ingeloop waar ek as ‘n ontvangsdame gewerk het, ek het hom dadelik raak gesien. Tiaan was ‘n rep vir BASF en het daarna nog ‘n hele paar besoeke by ons afgelê en ek het elke keer net meer en meer verlief geraak. Na ‘n hele paar weke skraap ek toe uiteindelik die moed bymekaar en kry sy nommer by ‘n kollega en ja, ek maak toe die eerste “move”. So gaan ons toe op ons eerste date en die res, soos hulle in Engels sê, was “history”.

Tiaan: Nikita was ‘n klient by een van die winkels waar ek gereeld besoeke afgelê het as ‘n rep. Om daai rede het ek maar probeer om professioneel te wees en glad nie opgelet na die duidelike “signals” wat sy my kant toe gestuur het nie, maar gelukkig het ek later tot my sinne gekom.

Wanneer het jy die eerste keer besef jy is verlief?

Nikita: Wel, vir my was dit eintlik maar love at first sight, maar die presiese oomblik wat ek die skoenlappers in my maag duidelik voel vladder het is toe Tiaan my eendag groet met die eenvoudige woordjies, lekker dag en vir my oog knip.

Tiaan: Ek het net dadelik geweet met ons eerste date.

Wanneer en hoe het julle verloof geraak?

Nikita & Tiaan: Ons het die 24ste Desember, 2015, verloof geraak onder 'n Vye Boom op my Oupa en Ouma se plaas. Dit was so spesiaal dat ons besluit het om onder dieselfde Vye Boom te trou.

Hoe sal julle die steil van julle troue beskryf?

Nikita: Dit was 'n tipiese plaas troue met ‘n rustic styl. Daar was baie hout elemente en feetjie liggies orals.

Tiaan: Dit was deur en deur 'n bosveld troue.

Wat het julle die meeste geniet tydens die beplanning van die troue?

Nikita: Ek het elke oomblik van die beplanning geniet, maar die soek na my perfekte rok was beslis my gunsteling.

Tiaan: Dit was lekker om unieke goedjies te soek om ons dag anders en spesiaal te maak.

Was daar iets waaroor julle gesukkel het om oor een te kom en hoekom?

Nikita: Gelukkig nie, ons het albei dieselfde idee gehad vir ons trou dag.

Tiaan: Nee, ons het dieselfde smaak.

As jy terug dink aan jou trou dag, wat onthou jy heel eerste?

Nikita: Die eerste keer toe ek Tiaan aan die einde van die paadjie by die kansel sien staan. Op daardie oomblik het al die senuwees en spanning van ‘n paar minute terug net verdwyn, en ek was reg om sy vrou te word. 

Tiaan: Die Dominee wat ‘n halfuur laat was vir die seremonie as gevolg van ‘n onskuldige misverstand.

Sal julle enigeiets verander en hoekom?

Nikita: Ons troue was waarlik perfek, ek kan nie aan iets dink wat ek anders wou gehad het of sou doen nie.

Tiaan: Nee, ons troue was alles wat ons wou gehad het.