'n Trougids waar bruide top gehalte diensverskaffers kan vind eksklusief in Limpopo asook tonne inspirasie en advies.

Vragies vir agies - Charl van der Merwe

Charl beskryf Benji en Almone se troue by Kamp Aquila as ‘n “English fairytale”. Dit was ‘n selfdoen troue en die bruidegom se ma het al die dekor en blomme aanmekaar gesit. Hy vertel dat hierdie troue spesifiek vir hom uniek was oor almal so rustig was, nie een persoon op hul senuwees nie. Die bruid se paadjie na die kansel was ook nie volgens tradisie nie, die stoele was so gepak dat dit ‘n spiraal gevorm het en die bruid, met albei haar pa’s aan haar sy, het soos ‘n sprokiesprinses deur die opgewonde gehoor gestap… “Dit was baie romanties! Beslis een vir die boeke”.

Vertel ons ’n bietjie van jouself.

Ek het groot geword in Dendron, ongeveer 70km vanaf Polokwane en bly nogsteeds daar. Ek is die jongste van drie broers. Alhoewel en nou al vir 3 jaar professioneel fotos neem, is dit nie my voltydse beroep nie. Glo dit of nie, maar in die week boer ek! 

Waar kom jou passie vir fotografie vandaan?

My passie vir fotografie het al 8 jaar terug begin toe ek my eerste mik en druk kamera gekoop met my verjaarsdag geld. Dit is toe die gogga my byt en van toe af spaar ek nog net vir grootter en beter. 

Wat is jou gunsteling plek waarheen jou fotografie jou al geneem het?

As fotograaf het ek die geleentheid om baie verskillende plekke te sien, maar my gunsteling is definitief die Kaap! Daar is net iets aan die bergreekse en wingerde wat my opgewonde maak.

Watse tipe voorbereiding doen jy voor jy ’n troue afneem?

Die lekkerste deel vir my is om die paartjie die eerste keer te ontmoet, om ‘n gesig by die name en stemme te sit.
 Eerstens maak ek seker al my toerusting werk, meer as een keer! Dan maak ek seker dat alles bymekaar is, batterye gelaai, kaarte skoon, ekstra kaarte in is, die tegniese goedjies. Dan sal ek natuurlik met die paartjie gesels oor die tydlyn vir die dag, en dan probeer ons om soveel as moontlik by die tydlyn te bly.

Wat is van die moeilikste uitdagings wat jy as trou fotograaf al teegekom het en hoe het jy dit oorkom?

Ek kan met baie dankbaarheid se dat ek nog nie ernstige probleme soos val en ‘n stukkende kamera oorgekom het nie, maar het al paar dinge beleef tydens ‘n troue wat op daardie oomblik baie erg is, maar nou kan ons daaroor lag! My gunsteling storie om te vertel is die bruid wie se rok nat geword het oomblikke voor sy haar bruidegom moes ontmoet by die kansel. Ons moes almal skarrel om die rok droog te blaas met haardroeers!

Wat geniet jy die meeste van trou fotografie?

Ek geniet om te sien hoe die verskillende mense verskillend reageer voor die kamera. Baie mense is kamera sku en dit is vir my lekker om hulle natuurlike self uit te bring in die fotos.
My gunsteling deel is die dag wat ek die trou album ontvang en kan rustig sit en die dag beleef voordat ek dit vir die paartjie aanstuur!

Hoe sal jy jou styl beskryf?

Ek sal sê sag, natuurlik en romanties.

   

Watse tipe raad sal jy aan bruide gee wat opsoek is na ’n trou fotograaf?

As jy iets nie weet nie, vra! Die fotograaf het al baie dinge beleef en sal heel moontlik kan help met jou probleem! Dan sal ek aanbeveel dat daar altyd ‘n verlowingsessie gedoen word, die is net om (veral die bruidegom) gemaklik te maak voor die kamera, vir die paartjie om beter te verstaan hoe die fotograaf te werk gaan. En dan natuurlik die styl van jou fotograaf! Maak seker dat jy verstaan en hou van die styl.

Verskaffer: