'n Trougids waar bruide top gehalte diensverskaffers kan vind eksklusief in Limpopo asook tonne inspirasie en advies.

Vragies vir agies - Davish Photography

Op 25 Junie 2016 klim Elanie van Davish Photography agter die lens in om Jacques en Esmari Voges se troue af te neem. Sy vertel hoe spesiaal dit was omdat die paartjie by Tsekama getroud is, dieselfde plek waar sy en haar man sewe jaar gelede getroud is.

“Daar was soveel liefde, rustigheid, opwinding en geluk in die lig, mens kon nie help as om net gelukkig te voel nie. Jacques en Esmari is hartsmense, hulle liefde vir mekaar is aansteeklik en neem my terug na ‘n 1940’s rolprent. Esmari het soos ‘n prinses gelyk. Haar rok het haar perfek gepas, dit was vroulik, sag en romanties. En haar prins, wel, dit het gelyk of hy deur Tom Ford homself geklee was.”

1. Vertel ons bietjie van jouself...

Ek is vanaf Potgietersrus, en is al langer hier as van die geboue ;-) Ek is gelukkig getroud met die wonderlikste man asook my grootste ondersteuner, die mamma van twee van die mees besonderse klein dogtertjies, wat my alles is, die oudste van drie sussies en ‘n voltydse fotograaf wat spesifiek fokus op trou & leefstyl fotografie.

2. Waar kom jou passie vir fotografie vandaan?

Van kleins af was ek doenig met my Pa se kamera, sonder toestemming natuurlik. Ons mag nie eers vir my Pa se kamera gekyk het nie, nog minder daaraan gevat het. Maar as die huis stil geraak het, het ek die geleentheid aangegruip om fotos te neem, soms was dit van my niggie in my Ma se aandrokke, ander kere ‘n straat hondjie wat ek gered hetnen later moes verduidelik waste hond op my ma se bed gelê het as hulle die film laat ontwikkel. Dit was moeilik om my foto sessies 'n geheim te hou as my ouers dit laat ontwikkel. My pa het toe vir my so mooi geel mik-en-druk kamera gekoop, die foto-gogga het my behoorlik gebyt.

4. Wat is een van jou gunsteling hoogtepunte van jou loopbaan?

Sjoe, daar is regtig so baie maar ek het die voorreg gehad om my twee fotografie-rolmodelle te ontmoet en by hulle te leer. Ek was kinderlik opgewonde! Ek was so opgewonde en op my senuwees, maar hulle het alle verwagtinging oortref en my geinspireer.

 

5. Watse tipe voorbereiding doen jy voor jy ’n troue afneem?

Gewoonlik as dit moontlik is, hou ek heel eerste ‘n vergadering met die paartjie so paar weke voor hul groot dag, om mekaar te ontmoet en lekker te gesels oor hulle spesiale daggie en net sommer hulle op hulle gemak te sit sodat die fotos nie nog 'n aspek hoef te wees waaroor hulle hulself vermoei op die groot dag nie. Die paartjie voltooi ook vir my dokumente wat al die nodige inligting rondom hulle groot dag bevat, soos die tydlyn, enige spesiale versoeke ens. Dan die aand voor die troue begin die voorbereiding, batterye word gelaai, kaarte word skoon gemaak, kamera sak word oorgepak, alles word getoets en dan kyk ek dat alles in my sak is. Die dag van die troue vat ek ‘n rukkie om te besluit wat ek moet aantrek en my arme gesin moet help kies, ek wil altyd profesioneel lyk maar ook in pas by die troue en die tema. Daarna word my kamera sak weer deur gekyk en seker gemaak alles is daar binne. Dan spring ek in die kar, net om so 20min later die kar te stop en weer seker te maak alles is in my kamera sak. Wat die aankoms by die troue betrek – stap 1, laat die bruid gemaklik voel, sodat sy natuurlike prag vasgevang kan word.

6. Wat is van die moeilikste uitdagings wat jy as trou fotograaf al teegekom het en hoe het jy dit oorkom?

Ek dink ‘n troue self is seker die grootste uitdaging, as die fotograaf het jy ongelooflik baie verantwoorderlikheid om seker te maak alles word afgeneem, elke kleinste dekor, daai spesiale oomblikke, daai nooit weer oomblikke en hulle mooiste dag vir hulle soos hulle daarvan droom verewig vas te vang. Elke troue het sy eie klein uitdagings maar dit is deel van die lewe. Mens kan nie dat dit jou onder kry nie, jy spring in en probeer help en gaan voort. By ‘n onlangse troue, wou die bruid se rok se gulp nie oop gaan nie met haar nog nie in die rok nie, ons het koppe bymekaar gesit en alles probeer, na ‘n hele ruk van sukkel het ons besef die gulp gaan nie oop gaan nie en die bruid se pa het die gulp oop gebreek, bruid in haar rok en toegewerk in haar rok. Dit is glad nie wat enige bruid wil he moet gebeur op haar trou dag nie, maar hierdie tipe goed gebeur, al wat mens kan doen is om die beste van ‘n slegte saak te maak. 

7. Wat geniet jy die meeste van trou fotografie?

Al die mooi en liefde! Troues is romanties, dit is vol spesiale, unieke, kosbare en snaakse oomblikke, soos as Ouma die Macarena dans. Maar vir my is een van die heel mooiste oomblikke net na die kerk diens, as ons by die foto plekkie aankom en die bruidspaar is alleen, dit is rusitg en hulle besef hulle is man en vrou, dit is die mooiste oomblik

8. Hoe sal jy jou styl beskryf?

Gesofistikeerde eenvoud met natuurlike lig.

9. Watse tipe raad sal jy aan bruide gee wat opsoek is na ’n trou fotograaf?

1. Kyk na klomp verskillende fotograwe se werk op al die sosiale media platforms, nie net die beste wat hulle op hulle eie webverf sit nie.

2. Kry hierdeur ‘n goeie idee watse fotograwe se style praat met joune.

3. Bepaal hoeveel julle kan spandeer op ‘n fotograaf en kies julle top drie.

4. Ontmoet die fotograaf van julle keuse en kyk of jy gemaklik is met die fotograaf, en of julle mekaar verstaan – As daar nie sinergie voor die troudag is nie, sal daar verseker nie wees met die troudag nie.

5. As dit moontlik is probeer ‘n verlowings foto sessie saam die fotograaf doen, hierdie is meer vir die aanstaande bruidegom as die bruid, en gee julle 'n baie goeie idee van julle eie eindproduk.

6. Los die Pinterest prentjies by die huis. Gee jou fotograaf kreatiewe vryheid om jou af te neem op jou mooiste en natuurlikste, onthou jy het die fotograaf gekies vir 'n rede.

7. Heel belangsrikste wees realisties, jy kan nie die gevoel en “look” van see fotos verwag as jy in die bosveld troue nie, vertrou jou fotograaf.