'n Trougids waar bruide top gehalte diensverskaffers kan vind eksklusief in Limpopo asook tonne inspirasie en advies.

Vragies vir agies - Nikki van der Heever

Nikki vertel hoe Kings Walden haar nog altyd gefassineer het, maar nog nooit die geleentheid gehad het om fotos daar te neem nie. Daarom was sy ekstra opgewonde toe SP en Isabel vir haar sê dat hulle daar gaan trou…

“Hulle troudag was 7 Januarie 2016 - dit was ’n Donderdagmiddag en die jaar was maar net ’n week oud, so daar het nog ’n groot vakansie-tipe rustigheid geheers. Dit was ’n intieme feesviering tussen hartsmense - een lang tafel gedek onder die sterre vir slegs 20 gaste.

Isabél was ’n prentjie uit ’n boek geklee in ’n Casper Bosman skepping! Die rok het haar perfek gepas en die ontwerp het alles van haar so mooi saamgevat - sag, romanties, vleiend… SP se reaksie toe sy by die trappies afkom was een van daai egte oomblikke waarvan fotograwe droom om te kan vasvang! Die emosie was tasbaar soos al die gaste met bewondering kon toekyk hoe hulle tydens ’n baie spesiale seremonie eg aan mekaar beloof.

Hulle fotosessie was een van my gunstelinge - die ongelooflike natuurskoon wat King’s Walden bied gekombineer met die gloeiende somer sonsonder en die opregtheid van SP en Isabel se menswees en liefde vir mekaar, was soos vuur in my hart. Ek was in bewondering. Dit was ’n lieflike, vars aand met kos uit die boonste rakke! Ons het die aand afgesluit met ’n “sparkler exit” waartydens hul gaste vir hul ’n tonnel gemaak het met “sparklers” en hul sodoende seën toegewens het op hul nuwe lewenspad!”

Vertel ons bietjie van jouself.

Ek kom oorspronklik van Pretoria af, maar is nou al 10 jaar in Pietersburg. Ek neem nou amper 8 jaar voltyds foto’s. Ek is gelukkig getroud en is ma van 2 woelwater seuntjies wat my lewe verryk!

Waar kom jou passie vir fotografie vandaan?

Ek het op skool al ’n passie vir fotografie gehad, maar dit nooit verder gevat nie. Ek was op ’n paar uitreike na Mosambiek en Botswana en kon my kamera net nooit neersit nie. Ek was in die oggende vroeg uit en het rolle vol foto’s geneem. Toe ek eers getroud is, het my man my aangemoedig om my passie verder te vat en ek het paar praktiese kursusse deurgewerk. Ek het toe die stap geneem om dit voltyds aan te pak.

Wat is jou gunsteling plek waarheen jou fotografie jou al geneem het?

Ek was bevoorreg om al in die Kaap ’n troue te kon afneem en ook in die Drakensberge. Ek is mal daaroor om by plekke te neem waar ek nog nie was nie! Maar Magoebaskloof bly my gunsteling - ek is ’n dromer en so lief vir die woud - dit laat my “tick”! ’n Strand troue is defnitief ook nog op my bucket list!

Watse tipe voorbereiding doen jy voor jy ’n troue afneem?

Ek verkies om saam met paartjies paar weke voor hul groot dag te sit waartydens ons dan oor alles van hul dag gesels. Ek hou daarvan om vooraf ’n gevoel van die troue te kry, dan weet ek hoe om dit te benader. Ek werk saam met hulle aan ’n tydlyn vir die dag en gee raad en voorstelle om hulle beplanning makliker te maak. Die dag vooraf probeer ek gewoonlik rustig wees en gaan dan weer deur notas wat ek tydens die afspraak gemaak het sodat dit vars is vir die volgende dag. Mens moet natuurlik ook voor elke troue jou toerusting deeglik nagaan en skoonmaak.

Wat is van die moeilikste uitdagings wat jy as trou fotograaf al teegekom het en hoe het jy dit oorkom?

Daar was gelukkig tot op hede nog nie baie groot uitdagings om op die dag self te hanteer nie (daarvoor is ek baie dankbaar!), maar elke troue gaan gepaard met ongelooflike verantwoorderlikheid, so die vlinders in die maag is maar altyd daar! Die moeilikste aspek van ’n troue is maar tydsbestuur - daar is soveel dinge om af te neem en paartjies beplan so lank aan elke stukkie detail, dat mens nie graag iets wil mis nie. So met elke troue probeer ons hard om by ’n tydlyn te bly. Ek is dankbaar vir ’n ongelooflike assistent wat ook my hartsvriendin is, so sy ken my baie goed en bedink situasies vooruit. Wanneer die stres so bietjie oorhand kry, sal sy altyd vir my sê “You got this”.

Wat geniet jy die meeste van trou fotografie?

Troues is so mooi! Danksy Pinterest is die idees oneindig en dis so lekker om by ’n saal in te stap en met bewondering te kan afneem. Ek leef vir opregte oomblikke tussen paartjies en dit roer my hart as liefde en lig saam magic kan maak… Ek is mal sprokies so om troues af te neem is soos om ’n “live" sprokie te kyk! Ek het ’n sagte plekkie vir pa en dogter oomblikke omdat ek self baie na aan my pa was en weet hoe moeilik dit vir hom was om my “weg te gee”.

Hoe sal jy jou styl beskryf?

Natuurlik, sag en romanties. Ek neem af wat natuurlik gebeur, maar gee ook leiding omdat baie mense nie natuurlik voel voor ’n kamera nie. Ek is mal oor natuurlike lig, maar hou daarvan om met addisionele beligting te speel.

Watse tipe raad sal jy aan bruide gee wat opsoek is na ’n trou fotograaf?

Stel vooraf vas of jy gemaklik is met die styl van daardie fotograaf. Kyk na ander style ook - wees bekend met wat daar is. Sê ook vir die fotograaf wat jy kies waarvan jy van HULLE werk hou. Pinterest is ’n wonderlike medium, maar kan soms onrealistiese verwagtinge skep. ’n Fotograaf neem gebeure af, so jou foto’s hang af van die gebeure en oomblikke van JOU dag. Dis ook baie belangrik dat die bruid en bruidegom vooraf die fotograaf ontmoet, sodat die bruidegom ook bietjie meer op sy gemak kan wees met die persoon.