A wedding guide where brides can find top quality service providers exclusively in Limpopo and tons of inspiration and advice.

Modern Sjiek

Vyf maande gelede het die bekende plaas, Bluberry Heights in Magoebaskloof, besluit om ‘n ou trekker skuur op te knap om plek te maak vir die nuwe kulinêre sensasie, Moutain Café. Van buite af kry jy die gevoel van ‘n ontspanne plaas opset, maar word aangenaam verras deur die restaurant se moderne, skoon en klassieke binneversiering. Dit is hier waar ons inspirasie gevind het vir ons “Modern Sjiek” gestileerde fotosessie. 

Ons was baie opgewonde toe Mountain Café se talentvolle bestuurder, Reneé Naudé, ons toestemming gegee het om hulle restaurant in te vaar met modelle, rokke, ‘n fotograaf, grimering- en haarstiliste, bloemiste en ‘n barista wat ons aan die gang gehou het met kafeïen!

Die dag was lank en die koffie het later opgeraak, maar entoesiasme was hoog en ons is baie opgewonde om die eindresultaat van almal se harde werk met julle te deel!

Uit met frilletjies en valletjies en in met die industriële onafgewerkte gevoel! Ons het ‘n koper boog gebou wat Lara van Bloom Floral Design versier het met plaaslike blomme en groen loof. Koper is duur en as dit nie in jou begroting pas nie kan jy dieselfde effek kry met wit PVC pype en koper sproeiverf, soos ons hier gedoen het. Ons model dra ‘n wit sequin rok deur Mengouchi Couture.

Maak jou eie koper kandelare om die moderne gevoel op jou tafel deur te trek. Hierdie is ‘n werkie wat jy vir jou verloofde kan gee, stuur hom na die naaste hardeware winkel toe om koper pyp en die bykomstige toebehore te gaan koop.

In plaas van die gewone papier naamkaartjies, laat maak decals van jou gaste se name wat jy op gloeilampe plak, dit maak dan ook vir ‘n oulike en moderne geskenkie wat hergebruik kan word. Hulle sal vir so lank as wat daardie gloeilamp brand aan julle groot dag herhinder word! Jou skryfbehoeftes speel ook ‘n groot rol, jou uitnodiging gee gaste ‘n eerste indruk van wat om te verwag met julle troue. Colleen van Lieflingkind het ons bederf met ‘n pragtige stel skryfbehoeftes spesiaal vir ons tema en het ook die name op die gloeilampe gemaak.

Lara van Bloom Floral Design het ons tafel met die mooiste waterval ruiker versier, in plaas daarvan om die ruiker oor die hele lengte van die tafel te drapeer, het sy dit oor die breedte gedoen vir ‘n meer moderne gevoel. Dit kan ook meer koste effektief wees. Ons modelle aan tafel spog met Closet Couture rokke deur die bekende ontwerper, Casper Bosman.

Die skouspelagtige juwele is spesiaal ontwerp vir ons tema deur Danietha Pieterse wat binnekort haar splinternuwe juwele reeks, Ellie Katarina, bekend stel. Vat kanse met jou juwele. Juwele, of dit nou fyn en subtiel is, of groot en bonkig, kan ‘n uitrusting waarlik uniek maak!

Bederf jou gaste met die nuutste moderne tendens, The Grind se koffie Tuk Tuk. Ben Schempers is almal se gunsteling barista, en sy koffie, warm of koud, beloof ‘n hartlike smaaksensasie. Ons model dra die “showstopper” vir die dag, ‘n pragtige Closet Couture blomme rok deur Casper Bosman.

Jana Pohl, ons gremeerkunstenaar het waarlik ons tema op ons modelle se gesigte uitgebeeld, modern en sjiek! Die swart nommertjie is 'n Mengouchi Couture skepping wat by dra tot die drama van ons model se smeulende oë. 

Angelique Nel, ons haarstilis, het haar uitstekend van haar taak gekwyt en het seker gemaak sy “kroon” ons modelle met pragtige vlegsels en sagte krulle gepas vir ons tema! Ons sluit dan die fotosessie af met 'n vrolike silwer Closet Couture rokkie deur Casper Bosman.

‘n Besonderse dankie aan Elmarie Whelan van Prentjiemooi vir die pragtige fotos. Ons hoop ons “Modern Sjiek” gestileerde fotosessie het jou geinspireer met nuwe en unieke idees!

 

Verskaffers:

Venue: Mountain Café 

Fotografie: Prentjiemooi

Blomme: Bloom Floral Design

Grimering: Jana Pohl Makeup Artistry

Hare: Angelique Makeup and Hair

Skryfbehoeftes: Lieflingkind Design

Juwele: Ellie Katarina deur Danietha Pieterse

Barista: The Grind

Naels: The Little Beauty Box

Rokke: Closet Couture - Blomme rok, Nude rok met swart plunge, Sagte pienk sequen rok met moutjie

Rokke: Mengouchi Couture - Wit rok met sequin mou, Goue sequin haalternek rok, Swart rok